Bethlehem-vrywilligers brei met liefde vir projek oor emosionele regulering
Solidariteit Helpende Hand se Vrystaat-streek het vrywilligers reg oor die streek gemotiveer om deel te neem aan 'n hartroerende inisiatief: die Beertjie-projek. Hierdie projek vorm deel van die streek se emosionelereguleringsprojek – die beertjies help kinders wat trauma beleef het, om hulle emosies te reguleer/beheer. Dit moedig vrywilligers ook aan om hul gawes en talente te gebruik om beertjies te brei vir mense wat trauma, verlies of emosionele nood beleef.
Hierdie beertjies is nie net speelgoed nie – elke beertjie is 'n simbool van troos, ondersteuning en omgee. Hulle word uitgedeel aan mense wat daarna smag om te weet hulle is nie alleen nie. Hulle is 'n stil getuienis dat iemand omgee.
Toe Hoeksteen Gemeente in Bethlehem van die projek hoor, het hulle sonder huiwering hand bygesit. Aanvanklik was die mikpunt om voor einde Julie 100 beertjies te voltooi, maar die reaksie was oorweldigend. Onder leiding van Petro Rautenbach het lidmate en gemeenskapslede saamgespan en 'n merkwaardige 383 handgemaakte beertjies voltooi!
Die beertjies is op Donderdag 24 Julie by Hoeksteen Gemeente uitgestal sodat die gemeenskap dit kon besigtig. Elke beertjie is uniek in kleur, grootte en persoonlikheid en is afgerond met 'n Bybelvers wat geborduur is deur Anso van Rooyen, eienaar van Ons Winkel Bethlehem.
Soreta Potgieter, een van die projekorganiseerders by Hoeksteen Gemeente, het elke geborduurde Bybelvers sorgvuldig vasgewerk. Sy vertel dat sy gebid het vir elke beertjie wat deur haar hande gegaan het. Sy sê: "Sommige van die beertjies het nie monde nie, en dit het my laat dink aan mense – kinders én volwassenes – wat nie 'n stem het nie. Elke mens dra 'n storie, en selfs wanneer ons nie daaroor kan praat nie, herinner God ons daaraan dat ons waardevol is."
Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek spreek hul opregte dank uit teenoor elke vrywilliger wat hul tyd en vaardighede gegee het om hierdie projek met liefde aan te pak.