Twee dogters, twee stories – die verskil wat ons kan maak
Hierdie week het ek twee stories gehoor wat my opnuut laat nadink het oor die toekoms van ons kinders, die geleenthede wat ons vir hulle skep en die verantwoordelikheid wat ons as gemeenskap dra.
Twee dogters op die drumpel van volwassenheid. Albei met ‘n lewe wat voor hulle uitstrek, maar met uiteenlopende vooruitsigte.
Die een dogter ken ek uit my dae as statutêre maatskaplike werker. Sy is as kind uit haar ouers se sorg verwyder, word binnekort 18 en het besluit om na haar ouerhuis terug te keer. Haar vooruitsig is om in ‘n kroeg te gaan werk. Ek wonder oor die pad wat haar tot hier gebring het, die uitdagings wat sy moes trotseer en die geleenthede wat moontlik nooit binne haar bereik was nie. Hoeveel jongmense se drome kry nooit behoorlik kans om te ontwikkel nie – nie noodwendig omdat hulle te min potensiaal het nie, maar omdat die pad na ‘n ander toekoms vir hulle moeilik bereikbaar is?
Die tweede dogter se verhaal het ek as maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand leer ken. Helpende Hand ondersteun haar die afgelope paar jaar met bus- en koshuisgeld. Sy is die toppresteerder in haar graad en is verkies tot die verteenwoordigende leerderraad vir 2027. Wanneer sy in 2028 besluit om verder te studeer, bestaan daar ook die moontlikheid om ‘n studielening deur Helpende Hand te bekom. Haar droom is om ‘n rekenmeester te word.
Busgeld en koshuisgeld mag na gewone uitgawes lyk, maar vir hierdie jong meisie beteken dit praktiese ondersteuning wat haar help om aan te hou skoolgaan, te presteer en haar drome na te streef. Dit is die krag van ondersteuning: wanneer iemand nie net ‘n behoefte raaksien nie, maar besluit om iets daaraan te doen.
Helpende Hand kan nie elke uitdaging uit haar pad verwyder of haar sukses waarborg nie, maar kan saam met haar aan haar toekoms bou en help om geleenthede bereikbaar te maak. Dit gaan oor veel meer as die betaling van ‘n rekening; dit gaan daaroor om in kinders en jongmense se toekoms te belê.
Ons kan nie altyd kies onder watter omstandighede kinders grootword nie, maar ons kan kies hoe ons reageer wanneer ‘n kind ondersteuning nodig het. Ons kan wegkyk en aanvaar dat iemand anders sal help, of ons kan betrokke raak. Ons kan potensiaal raaksien, maar niks daarmee doen nie. Of ons kan ons tyd, hulpbronne en netwerke gebruik om nuwe moontlikhede te skep. Hierdie verantwoordelikheid rus nie net op een organisasie se skouers nie. Dit is ons almal s’n. Dalk kan jy ‘n bydrae maak tot ‘n kind se koshuisgeld of ‘n jongmens se opleiding, jou kundigheid beskikbaar stel of ‘n onderneming betrek wat saam ‘n verskil kan maak.
Ek wil elkeen uitdaag: Raak betrokke en kry ander betrokke. Deur Solidariteit Helpende Hand kan ons saam geleenthede skep vir kinders en jongmense wat ondersteuning nodig het. Kom ons wag nie totdat ‘n kind se omstandighede ‘n krisis word voordat ons optree nie. Kom ons help om deure oop te maak voordat geleenthede verlore gaan.
Ons kan nie elke kind se toekoms bepaal of elke droom waarborg nie, maar ons kan help om die pad daarheen meer bereikbaar te maak.
Dit is nie genoeg om te sê dat kinders ons toekoms is nie. Ons moet bereid wees om vandag in daardie toekoms te belê.
Miskien is die belangrikste vraag nie net wat van hierdie twee dogters gaan word nie, maar eerder: Wat gaan ek en jy vandag doen om ‘n verskil in die verhaal van die volgende kind te maak?
Kontak my gerus by 076 984 9598.
Chantell van Wijk, Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand