Wanneer baie bietjies ‘n wonderwerk word …

Daar is dae wat die nood voor ‘n maatskaplike werker se oë so groot word dat jy vir ‘n oomblik wonder hoe jy of die gemeenskap ooit genoeg gaan hê om ‘n verskil te maak. Ek en my kollega het onlangs binne een enkele dag 14 hulpversoeke ontvang. Veertien mense, gesinne of huishoudings wat op een of ander manier hulp nodig het. Veertien oproepe om hulp. Veertien situasies waar iemand se nood groot genoeg geword het om uit te reik en te vra: Kan julle asseblief help? Dit is bo en behalwe die planne wat ons reeds help maak om kospakkies te voorsien aan lede van G4S wat deur die DKD-dispuut geraak word.
Op ‘n stadium het ek teruggesit en gewonder: Hoe gaan ons ooit hierdie ondersteuning kan bied? Hoe gaan ons al hierdie nood verlig as ons skenkings en ander hulpbronne so min is?
Agter elke hulpversoek is daar ‘n mens. ‘n Ma wat probeer om haar kinders deur die maand te kry. ‘n Gesin wat nie weet waar die volgende ete vandaan gaan kom nie. Iemand wat dalk lank probeer regkom het voordat hulle die moed bymekaargeskraap het om hulp te vra. Die waarheid is: Ons wil help. Ons wil gee, maar soms is die hulpbronne net nie genoeg nie.
Een van ons takke voorsien byvoorbeeld elke Vrydag broodjies aan 80 kinders. Dit is 80 kinders vir wie ‘n klein bietjie verligting gebring word. Hierdie projek is onlangs geraak toe ‘n donateur weens begrotingsbeperkings aangedui het dat hulle minder sal bydra tot die projek. Dan besef jy opnuut hoe afhanklik volhoubare hulpverlening is van skenkings en mense wat inkoop om saam ‘n verskil te maak.
So in my wonder oor hoe ons die nood gaan aanpak en hoe ons gaan help, kyk ek na die skenkings wat ons ontvang het as deel van die Megaforce Motorfietsklub se waardigheidsprojek-insameling . Die projek is daarop gemik om toiletware in te samel, en tog is daar ook kosprodukte aan ons geskenk. Miskien sou iemand wonder hoe meel en voedselprodukte by so ‘n projek inpas, maar wanneer jy met nood werk, leer jy om met ander oë na skenkings te kyk. Jy kyk nie net na wat jy ontvang nie; jy kyk na wat jy daarmee kan doen en wie daarmee gehelp kan word. Ek kry ook in dieselfde week ‘n oproep van iemand wat eiers wil skenk.
Meel. Eiers. Voedselprodukte. Dinge wat op hul eie dalk na klein bydraes mag lyk, maar wat in die regte hande en op die regte tyd ‘n verskil kan maak.
Dit het my laat dink aan die verhaal in die Bybel van die vyf brode en twee vissies. ‘n Groot skare mense was honger, en wat beskikbaar was, het so min gelyk in vergelyking met die behoefte. Tog het Jesus dit geneem, daarvoor gedank en dit gebruik om duisende mense te voed.
Hoe dikwels kyk ons nie na wat ons het en besluit dit is te min nie? Hoe dikwels dink ons dat ons bydrae nie werklik ‘n verskil sal maak nie, omdat daar eenvoudig te veel nood is?
‘n Sakkie meel kan deel word van brood. ‘n Dosyn eiers kan ‘n gesin help om nog ‘n maaltyd op die tafel te sit. ‘n Klein geldelike bydrae kan saam met ander bydraes ‘n kospakkie moontlik maak. ‘n Uur van jou tyd kan vir iemand beteken dat hulle nie alleen deur ‘n moeilike tyd hoef te gaan nie.
Ek het net weer besef dat ons nie altyd vooraf kan sien hoe alles gaan uitwerk nie. Soms voel die nood oorweldigend en die hulpbronne onvoldoende, maar dan kom daar iemand oor jou pad wat iets gee. Dan lui die telefoon. Dan word ‘n deur oopgemaak wat jy nie self kon oopmaak nie.
Dit beteken nie dat al die uitdagings skielik verdwyn nie. Die nood bly groot, en die behoefte aan ondersteuning bly ‘n werklikheid. Daarom wil ek vandag ‘n beroep op elkeen doen: Moenie die waarde van jou klein bietjie onderskat nie.
As jy kos in jou kas het wat jy kan deel, deel dit. As jou onderneming ‘n bydrae kan maak, raak betrokke. As jy ‘n vaardigheid het wat iemand anders kan help, bied dit aan. As jy nie weet waar om te begin nie, reik uit na ‘n organisasie in jou gemeenskap en vra wat die grootste behoefte is.
Ek het by Solidariteit Helpende Hand kom leer dat baie bietjies baie maak, en wanneer ons dit wat ons het met oop hande deel, kan daar veel meer gebeur as wat ons ooit alleen sou kon vermag.
Raak vandag betrokke in jou gemeenskap en maak saam met ons ‘n verskil. Besoek gerus www.vrystaathand.co.za vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak.
Chantell van Wijk
Maatskaplike Werker
Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek