Wees daardie iemand
‘n Sterk gemeenskap ontstaan nie vanself nie – dit word gebou deur mense wat bereid is om betrokke te raak. Elkeen van ons het die vermoë om ‘n verskil te maak in die plek waar ons woon, werk en leef. Dit verg nie altyd groot gebare of groot finansiële bydraes nie; dikwels is dit die klein bewyse van omgee wat die grootste impak het.
Ons hoor dikwels mense sê: “Iemand moet iets doen,” of “Iemand moet daardie gesin help.” Maar wie is daardie “iemand”? Die waarheid is dat verandering begin wanneer gewone mense besluit om nie langer te wag vir iemand anders nie, maar self op te staan en ‘n verskil te maak deur hulle gawes en talente te gebruik.
Wees daardie iemand. Wees die mens wat uitreik, die vrywilliger wat tyd gee, die mentor wat ‘n jongmens bemoedig of die een wat ‘n helpende hand bied. Jy hoef nie alles te doen nie; elke bydrae, hoe klein ook al, maak ‘n verskil.
Gemeenskappe waar mense betrokke is, is sterker en beter toegerus om uitdagings saam aan te pak. Ons ontdek ook dat ons self verryk word deur die verhoudings wat ons bou en die doel wat ons daarin vind om ander te dien. ‘n Gevoel dat jy daar hoort. ‘n Gevoel dat daar weer hoop is ten spyte van die uitdagings, want ons werk self om die omstandighede te verbeter.
Moenie wag vir die perfekte geleentheid of vir iemand anders om die eerste tree te gee nie. Elkeen van ons het iets om te gee om ‘n verskil te maak daar waar ons woon, werk en leef. Die gemeenskap waarna ons verlang, begin by elkeen van ons.
Want uiteindelik is die vraag nie “Wie gaan iets doen?” nie, maar eerder “Kan ek daardie iemand wees?” Wanneer elkeen bereid is om daardie vraag met ‘n daad te beantwoord, bou ons saam aan ‘n gemeenskap waar hoop, omgee en verantwoordelikheid tuis is.
By Solidariteit Helpende Hand glo ons dat elke gemeenskap sterker word wanneer “gewone” mense besluit om buitengewone omgee vir mekaar uit te leef. Raak betrokke – wees daardie iemand.
Kontak my gerus vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak.
Chantell van Wijk
Maatskaplike Werker:Solidariteit Helpende Hand
076 984 9598
