DANKIE – VIR DIE EKSTRA WASGOED

Moedersdag het vir my van buite nog altyd sag en mooi gelyk – blomme, ontbyt in die bed, kaartjies met netjiese woorde. Maar hierdie jaar voel dit anders. Hierdie jaar beleef ek dit. Hierdie jaar is ek ‘n mamma.

En om eerlik te wees: Dit lyk nie altyd soos op die prentjies nie.

My dae begin nie met stilte en sonskyn wat deur die gordyne stroom nie. Dit begin met ‘n klein stemmetjie wat my roep nog voor die son behoorlik op is. My huis is nie altyd netjies nie – daar is wasgoed wat nooit ophou nie en skottelgoed wat ophoop. Party dae voel dit of ek net aanhou hardloop sonder om ooit regtig klaar te kry. Maar iewers tussen die chaos en moegheid het iets in my hart verander.

Ek het begin besef: Ek mág hierdie dinge doen. En meer as dit – ek kan selfs daaroor bid.
Ek kan dankie sê vir die wasgoed, want dit beteken daar is ‘n klein lyfie wat ek mag versorg.
Ek kan dankie sê vir die skottelgoed, want dit vertel die storie van ‘n huis waar daar geleef en liefgehê word. Ek kan dankie sê vir die nagte wat ek opstaan, want daar is ‘n baba wat my nodig het, wat veilig voel in my arms. Selfs die klein, ongesiene oomblikke het betekenis gekry – die doeke omruil, die wieg in die donker, die sagte neurie wanneer niemand anders luister nie.

Ek leer stadig maar seker dat diensbaarheid nie iets groots hoef te wees nie. Dit begin hier. In my huis. By my gesin. Met die eenvoudige, herhalende dinge wat niemand anders sien nie.

Dit is nie altyd maklik nie, maar in hierdie proses ontdek ek iets dieper – ‘n liefde wat groei, ‘n dankbaarheid wat vorm aanneem, selfs op die moeilike dae. En ek besef: Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is elke keer moontlik.

Moederskap het my oë oopgemaak vir die skoonheid van “gewone” dinge. Dit het my geleer dat daar genade is in die alledaagse, en dat vreugde soms stil en sag kom sit tussen hope wasgoed en ‘n deurmekaar huis.

Hierdie Moedersdag wil ek onthou. Onthou dat elke klein daad van liefde saak maak. Onthou dat diensbaarheid my nie leeg maak nie, maar my vorm. Onthou dat hierdie seisoen, hoe deurmekaar dit ook al voel, heilig is.

En dalk, net dalk, is dit waar die ware hart van Moedersdag lê – nie in perfeksie nie, maar in teenwoordigheid. In opdaag. In liefhê, oor en oor, selfs wanneer niemand kyk nie.

Gelukkige Moedersdag aan elke mamma wat haar alles gee, selfs op die dae wat niemand dit sien nie. Vir die mammas wat nog wag, wat hoop en bid en verlang. En vir dié wat nie noodwendig kinders van hul eie het nie, maar wat met soveel liefde en toewyding vir ander se kinders sorg, wat ‘n moederhart uitleef vir kinders wat dit nodig het. Julle maak ‘n onskatbare verskil.

Chantell van Wijk

Maatskaplike werker

Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek

Leave a Comment