Vroue – Die Hoopdraers in die gemeenskap

Deur die eeue heen was vroue die stil draers van swaar laste, hande wat genees sonder om erkenning te vra en harte wat klop vir die welstand van ander nog voordat hulle aan hulself gedink het. In ons gemeenskappe, veral in die Afrikaner-gemeenskappe, speel vroue ‘n onmisbare rol. Augustus staan bekend as Vrouemaand, daarom wil ons in Augustus stilstaan, terugkyk, en trots erken: Vroue is die fondament waarop ons volk gebou is.

Ons moet nooit vergeet waar ons vandaan kom nie. Die Afrikaner-vrou is gevorm deur ons geskiedenis – oorlog, verlies, geloof en opoffering. In konsentrasiekampe het sy haar kinders vasgehou. Tydens die Groot Depressie het sy haar gesin met ‘n klein bietjie meel en ‘n handvol hoop van kos voorsien. Sy het haar hande en geloof gebruik om gemeenskappe te help bou en kerke aan die gang te hou.

Ek kan nie help om te wonder of ons as vroue nie soms ons identiteit verloor in ‘n wêreld wat daagliks verander nie. Ons streef so hard na gelykheid, vryheid en selfstandigheid, dat ons soms vergeet waar ons vandaan kom. Ons mag nie vergeet nie.

Gemeenskappe het vroue nodig. Nie net in tradisionele rolle soos dié van moeders en susters nie, maar ook as mentors, hoopdraers en draers van waardes in ons gemeenskappe. Daar is krag in ‘n vrou wat haar plek ken – nie ‘n plek van onderwerping nie, maar van invloed. ‘n Vrou wat haar taal, haar geloof, en haar waardes trots uitleef, bring genesing waar daar gebrokenheid is. Sy bring hoop waar daar wanhoop is. En sy bring rigting waar daar verwarring is.

Afrikaner-vrou, jou nalatenskap is standvastig. Jy is ‘n skakel tussen wat was en wat nog moet wees. Jy is geroep om jou hande na jou gemeenskap uit te steek – om vroue, kinders en gesinne te ondersteun en waardes lewend te hou.

Liewe vrou, mag jy altyd onthou dat jou sagtheid nie beteken dat jy swak is nie. Mag jy onthou dat jou geloof berge kan verskuif. En mag jy onthou dat jou stem nodig is – in raadsale en in die kombuis, in die klas en in die kerk, op die plaas en in die dorp en stad. En bo alles – mag jy onthou waar jy vandaan kom. Want in daardie wete lê die sleutel tot wie jy is en wat jy nog vir jou mense kan wees.

By Solidariteit Helpende Hand is ons vrywilligers die hande en voete van ons organisasie. Steek vandag jou hand op en raak deel van die verskil in jou gemeenskap. Besoek gerus www.vrystaathand.co.za vir meer inligting.

Chantell van Wijk

Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek