Hoop: die lig in donker tye

In ‘n wêreld gevul met onsekerheid, uitdagings en hartseer is daar een krag wat mense telkens weer laat opstaan – hoop. Hoop is nie net ‘n mooi gedagte of ‘n sagte gevoel nie. Dit is ‘n noodsaaklike deel van ons welstand. Dit gee betekenis aan ons pyn, lig aan ons donker oomblikke en moed vir môre.
Hoop is die innerlike geloof dat dinge beter kan en sal word. Dit is die vermoë om vorentoe te kyk, selfs wanneer jou huidige omstandighede moeilik en swaar voel. Om hoop te hê, beteken nie dat ons ons pyn of probleme ontken nie; dit is om te weet dat die pyn of probleme nie die einde van ons storie is nie. Hoop is iets om aan vas te hou – al is dit net ‘n klein vonkie. Hoop beteken ek gee nie op nie.
Navorsing toon dat mense wat hoop het se fisiese en geestelike gesondheid beter is as dié van mense sonder hoop. Hoop verminder stres, help om angs te beheer en bevorder emosionele stabiliteit. Dit gee mense die dryfkrag om deur moeilike tye te werk, om oplossings te soek en om weer te probeer.
Hoop speel selfs ‘n rol speel in ‘n mense se herstel na siekte, trauma of verlies. ‘n Mens wat glo dat ‘n verbetering moontlik is, sal meer geneig wees om gesonde keuses te maak en deur te druk al is dit moeilik.
As ons hoop het, kyk ons anders na die wêreld. Ons sien moontlikhede waar ander net probleme sien. Ons beskou ons probleme eerder as uitdagings. Hoop gee betekenis aan dit wat uitdagend lyk, omdat dit die idee bevorder dat ons iets kan leer, dat ons kan groei uit die omstandighede, en dat elke storm verbygaan.
Hoop is nie altyd iets wat vanself kom nie – soms moet dit gebou word. By Solidariteit Helpende Hand poog ons om met die volgende hoop te skep:
- Toegang tot die geleentheid om te studeer deur die Studietrust
- Vaardigheidsopleiding in versorging deur die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut
- Die ontwikkeling van welstandsgerigte strukture in die gemeenskap
- Praktiese projekte waarby die gemeenskap betrokke kan raak
- Ons Winkel-franchise
- Ons Plek Kleuterskool- en naskooldienste en terapeutiese dienste deur Ons Sentrum
Hoop is nie net ‘n emosie nie; dit is ‘n keuse. Om te hoop, is om te besluit om nie op te gee nie, om vas te hou aan wat goed en moontlik is, selfs al is die pad moeilik. In elke mens se hart brand daar ‘n klein liggie – en daardie liggie is hoop. Mag ons dit beskerm en aanhou bou – nie net vir onsself nie, maar ook vir ander wat dalk hul eie liggie verloor het. Want waar daar hoop is, is niks ooit werklik verlore nie.
Raak vandag betrokke en skep saam met ons hoop in die gemeenskap waar jy woon, werk en leef. Besoek gerus www.vrystaathand.co.za vir meer inligting.
Chantell van Wijk
Maatskaplike werker
Solidariteit Helpende Hand