Die klein oorwinnings: ‘n Marie-beskuitjie in jou koffie

Het jy al ooit ‘n Marie-beskuitjie in jou koffie of tee gedoop en in die proses die frustrasie beleef van die koekie wat breek en in die koppie sink? Dit is asof die verkeerde ding op die mees onvanpaste tyd gebeur. Maar dan gebruik jy ‘n teelepel om die koekie uit te haal, en as jy terugsit en jou koppie warm koffie of tee drink, val alles skielik sommer net weer in plek. Dit is iets kleins wat die lekkerste gevoel van voldoening bring – ‘n herinnering dat die oplossing dikwels in die kleinste dingetjies lê, selfs wanneer dit voel of alles misluk.
Hierdie eenvoudige oomblik van oorwinning na frustrasie kan as ‘n metafoor gebruik word om na die uitdagings op ons lewenspad te kyk. Ons bevind onsself dikwels in situasies wat buite ons beheer is –finansieel, emosioneel of fisies – en dan voel dit of ons “gebreek” is. Die frustrasie is tasbaar, soos die koekie wat breek, maar die manier waarop ons kies om die uitdaging op te los, al is dit met ‘n klein teelepel, maak die verskil.
Wanneer die Marie-beskuitjie breek, is daar die onmiddellike teleurstelling omdat daar nie aan ons verwagting voldoen is nie. Jy het die koekie in die koppie gedoop met die verwagting dat jy aan ‘n sagte koekie gaan smul, maar jy het nie gekry wat jy verwag het nie. Wanneer die koekie in stukkies breek, voel jy gefrustreerd – dit is mos nou nie hoe jy dit beplan het nie. So ervaar ons dikwels die uitdagings wat oor ons pad kom. Ons het ‘n plan. Ons dink ons weet hoe dinge gaan werk. Maar dan gebeur iets onvoorsiens, en in ‘n sekonde verander alles. Of dit nou ‘n finansiële krisis, ‘n gesondheidsprobleem, of ‘n emosionele stryd is, die gevoel van teleurstelling kan oorweldigend wees. Ons word gekonfronteer met die vrae: Is ek in staat om dit te oorleef? Hoe keer ek terug na my oorspronklike toestand?
Dan, na die frustrasie of teleurstelling, kom die oomblik van kalmte. Jy neem die teelepel, steek dit in die koppie en haal die stukke van die koekie uit. Jy aanvaar die gebrokenheid en vind ‘n manier om die situasie ten volle te benut. Daardie klein aksie – om die gebroke koekie uit die koffie te haal – bring nie net die koekie terug nie, maar gee vir jou ‘n mate van beheer oor die situasie.
Net so kan ons met ons daaglikse uitdagings kies om ‘n oplossing te vind, al is dit klein en eenvoudig. Dit mag nie altyd die perfekte oplossing wees nie, maar net die feit dat ons iets probeer doen, is genoeg vordering. Ons mag dalk nie altyd in beheer wees van wat gebeur nie, maar ons is kan altyd beheer hoe ons daarop reageer.
Wanneer jy dink aan die konsep “om terug te keer na jou oorspronklike toestand”, verwys dit dikwels na jou vermoë om in ‘n moeilike situasie koers te hou, ondanks die uitdagings. Dit is nie om volmaak te wees of om alles perfek te hê nie, maar eerder om jouself te herontdek en aan te pas ten spyte van struikelblokke. Soms loop die lewe nie soos jy beplan het nie, en jy gaan soms sukkel. Maar net soos wanneer jy die koekie met ‘n teelepel uithaal, moet jy nie opgee nie. Die oomblik wanneer jy besluit om aan te hou – om die gebrokenheid te hanteer en nie toe te laat dat dit jou ontmoedig nie – is wanneer jy jou oorspronklike toestand vind. Soms is dit net ‘n klein daad of ‘n klein treetjie om aan te hou.
Op die ou end, wanneer die gebroke Marie-beskuitjie uiteindelik verby is en jy jou koffie of tee met ‘n bietjie vreugde geniet, besef jy dat die uitdagings wat die lewe bring nie altyd met groot aksies opgelos hoef word nie. Soms is net iets kleins nodig. Dit is daardie oomblik van kalmte, van oorkom en weer probeer, wat ons herinner dat ons nie altyd ons omstandighede kan beheer nie, maar ons kan wel kies hoe ons daarop reageer. Ons kan kies om die situasie te aanvaar, die lesse te leer, en met hoop vorentoe te beweeg. Ons hoef nie gedefinieer te word deur die gebrokenheid nie; ons kan kies om gedefinieer te word deur ons vermoë om dit te herstel.
Raak vandag nog betrokke by Solidariteit Helpende Hand en bou saam met ons welstandsgerigte strukture. Besoek www.vrystaathand.co.za
Chantell van Wijk Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek