Hulpverlening en die bemagtiging van gemeenskappe

Ek ontvang hierdie week ‘n boodskap van ‘n dame wat wil weet wanneer sy hierdie maand hulp kan verwag. Dit laat my dink aan hoe belangrik dit is dat geen hulpverlening ooit afhanklikheid mag skep nie. Dit moet eerder vir begunstigdes oplossings help vind om hulle uitdagings te hanteer en volhoubare verandering teweeg te bring.

Solidariteit Helpende Hand ontvang daagliks versoeke vir hulpverlening aan individue, gesinne en gemeenskappe. Hulpverlening is ‘n belangrike deel van die ontwikkeling van gemeenskappe, maar dit is belangrik dat hulpverlening nie afhanklikheid skep nie. Dit moet begunstigdes eerder bemagtig sodat hulle onafhanklik en selfstandig in gemeenskappe kan floreer.

Wanneer hulpverlening nie goed bestuur word nie, kan afhanklikheid gekweek word. Dit kan tot gevolg hê dat begunstigdes begin dink dat hulle nie sonder hulp van buite kan bestaan nie en kort voor lank sit ons met ‘n siklus van afhanklikheid wat van een generasie na die volgende oorgedra word.

Die doel van hulpverlening moet wees om vir begunstigdes ‘n verantwoordelikheidsin te gee terwyl hulle met respek en empatie behandel word sodat hulle hulle waardigheid behou.

Ons moet individue bemagtig met maniere en geleenthede om hulle eie probleme op te los. Opleiding en ontwikkeling speel hierin ‘n belangrike rol. Deur opleiding in praktiese vaardighede te ontvang, kan die lewens van die individue in gemeenskappe verbeter en hulle kan die geleentheid kry om hulle volle potensiaal te bereik. Gemeenskappe moet aangemoedig word om netwerke te vorm. Dit versterk nie net die gemeenskap nie, maar skep ook ‘n platform vir die uitruil van idees en hulpbronne.

Hulpverlening moet altyd gerig wees op die bemagtiging van gemeenskappe. Deur mense te leer, te ondersteun en hulle die nodige middele te gee, kan ons ‘n duursame verandering bewerkstellig. Dit sal nie net help om afhanklikheid te verminder nie maar ook ‘n kultuur van selfstandigheid en groei bevorder. Die fokus moet wees op die opbou van gemeenskappe sodat hulle in staat is om hul eie toekoms te bou.

Solidariteit Helpende Hand se missie is om maatskaplike ontwikkeling in gemeenskappe te bevorder met volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbronontginning. Sodoende kan die mens deur sy gemeenskap tot ‘n ontwikkelde, selfstandige, selfverantwoordelike en optimaal funksionerende persoon gedryf word. Dit sal gesonde, funksionerende gemeenskappe tot gevolg hê.

By Solidariteit Helpende Hand glo ons die beste helpende hand is die een aan die punt van jou eie arm. Elkeen van ons is ‘n ambassadeur van verandering en speel ‘n integrale rol om ons eie gemeenskappe te laat floreer. Dan vorm ons ‘n gemeenskap wat met hart en in krag saamstaan om hoop uit te dra. Daarom glo ons in die krag van die gemeenskap: uit die gemeenskap, deur die gemeenskap, vir die gemeenskap.

Besoek gerus www.vrystaathand.co.za vir meer inligting oor ons werksaamhede in die Vrystaat en hoe jy betrokke kan raak.

Chantell van Wijk Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek