Vier hierdie maand jou vrouwees

Op 9 Augustus herdenk ons Nasionale Vrouedag en dit laat my dink aan die rol wat vrouens speel in die gemeenskappe waar hulle woon en werk. Nie net kan ons duidelik die rol wat vroue in die geskiedenis gespeel het, veral tydens krisistye, sien nie, maar ook in die hede.

Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek is besig met ‘n projek oor die Jeug van Gister se stories. Ek dink nie ek kan die krag en moed van die vrouens wat in konsentrasiekampe moes woon, begryp nie. In een van die stories hoor ek van ‘n vrou wat op pad na die konsentrasiekamp alleen in ‘n klipkraal geboorte moes gee. Na die geboorte van haar baba het sy, die nuweling en haar ander twee klein seuntjies verder gestap na die konsentrasiekamp. Hierdie vrou het ook slim planne gemaak. Hulle huis is gedurende die oorlog afgebrand, maar sy het goue ponde aan haar belt vasgewerk en die belt om haar lyf vasgemaak, en dit het hulle na die oorlog gehelp om weer van voor af te begin. Ek hoor van vrouens wat koeksisters en pannekoek gebak het om fondse in te samel om kerke en skole te bou. Vandag bak ons vrywilligers steeds pannekoek en hou fondsinsamelings om fondse in te samel vir projekte wat ‘n daadwerklike verskil in die gemeenskap maak.

Krisistye bring dikwels uitdagings vir gemeenskappe mee, maar wanneer ons na die geskiedenis kyk, is dit juis wanneer vroue na vore tree as steunpilaar. Vroue mobiliseer dikwels die hulpbronne en hanteer kommunikasie wanneer ‘n gemeenskap uitdagings in die gesig gestaar en so help hulle om stabiliteit in die gemeenskap te bring. Hulle dra by tot die versorging van gemeenskappe deur praktiese hulp aan te bied om te voorsien in basiese behoeftes en hulp vir siek mense.

Karien Basson en Rouchelle Liedemann gesels oor vrouwees en noem dat elke vrou aan die “secret women’s tribe” behoort. Hulle beskryf vroue as die enigste spesie wat sal weet hoe dit voel om met ‘n glimlag op die gesig normaal voor te kom en optimaal te funksioneer ten spyte van fisiese en emosionele pyn. Om vrou te wees, is nie altyd maklik nie en daar is baie uitdagings. Vroue is onmisbaar in hul gemeenskappe. Ek dink vrouwees sal ook makliker wees as ons as vroue mekaar bemagtig en ondersteun.

Die spesifikasies van ‘n vrou word deur ‘n onbekende skrywer as volg beskryf: ‘n Vrou moet wasbaar wees, maar nie van plastiek nie. Sy moet ‘n warm hart en meer as 200 beweeglike onderdele hê. Sy moet in staat wees om baie kinders te kan vashou. Sy moet ‘n drukkie kan gee wat van ‘n gekneusde knie tot ‘n stukkende hart kan heelmaak. Sy moet dit alles kan doen met net twee hande. Sy kan haarself gesond dokter en tot 18 uur per dag werk. Sy is sag, maar sy is baie sterk. Jy sal nooit glo wat sy alles kan deurmaak en oorkom nie. Sy kan nie net dink nie, sy kan ook redeneer en onderhandel. Sy het krag wat ‘n man sal verbaas. Sy kan probleme hanteer en swaar laste dra. Sy glimlag wanneer sy lus voel om te skreeu. Sy sing wanneer sy lus voel om te huil, sy huil wanneer sy gelukkig is en lag wanneer sy bang is. Sy veg vir dit waarin sy glo en sy kry krag van Bo om voort te gaan met haar lewe

Die rol van vroue in ons gemeenskappe is onmisbaar en veelvoudig. Dit is daarom noodsaaklik dat ons vroue se rol erken. Ané Kotze van Kaalwoorde skryf: “Vier jou mooi, jou lelik, jou foute en jou sukses. Vier wie jy is, wie jy geword het, en hoe ver jy gekom het. Jy verdien dit.”

Vier dus jou rol as vrou hierdie maand.

Chantell van Wijk Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek