Drie 𝐣𝐚𝐚𝐫 π₯𝐚𝐚𝐬 …

“Ek kry oom so 11:00 se kant,” stuur ek die WhatsApp.

Gelukkig is ek 11:00 daar, want hy staan reeds buite op die sypaadjie. Van voor lyk dit na ‘n normale huis, maar dit is wanneer jy agterom loop wat jy die karavane en Wendy-huise sien. Hier woon 11 mense. Bejaardes en persone met gestremdhede.

Sy seun het ons gebel; hy kan nie meer sy pa met kos help nie. Met sy laaste besoek kon hy darem ‘n paar skorsies vir sy pa bring. Hy het sy werk verloor, is besig om te skei en weet self nie watter kant toe nie.

Ek stop voor die winkel en haal die note uit my beursie. Ek tel dit af en vra die oom moet rustig gaan inkopies doen; ek wag buite. “Ek het gister my lysie gemaak. Dit sal vinnig wees,” sΓͺ hy.

Terwyl ek wag, hou ek die mense dop. Die blinde oom met sy bordjie en wit stok wat voor die winkel sit en bedel. Die sekuriteitsvoertuig wat vinnig stop en die werknemer wat twee broodrolletjies koop vir middagete. Die informele stalletjie oorkant die pad wat pap en vleis verkoop. Die tannie met die stootwaentjie wat haar meer regop hou as wat dit die kleinding veilig hou. Ek besef weer dat elkeen van ons op ons eie pad is en dat ons nie regtig weet wat in ‘n ander se lewe aangaan as ons nie in hulle spore loop nie.

Die oom kom stadig met een sak teruggestap uit die winkel. Hy loop swaar van jare se rugbreekwerk op die spoorweΓ«. Soos baie van sy generasie het hy nie voorsiening gemaak vir sy oudag nie en is hy nou afhanklik van slegs ‘n SASSA-toelaag. Hy klim in en sΓͺ: “Vandag kon ek kos koop wat ek drie jaar laas geΓ«et het.” Ek gaan laai hom by sy karavaan af en bevestig dat ek hom einde Junie weer sal kom oplaai. Hy noem ons “human angles” en bedank elkeen wat ons in staat stel om hom te help. Terwyl ek terugry kantoor toe loer ek na die strokie langs my op die sitplek … bruinsuiker, koffie, witbrood, tamatie en uie, wors … drie jaar laas.

Kontak ons gerus as jy ook ‘n verskil in ‘n bejaarde se lewe wil maak.

Kobus Venter