‘n Stukkie uit die legkaart van die samelewing se waardevolle stories
Die gange van ‘n sentrum vir bejaardes bied dikwels ‘n terugblik op die lewens en belewenisse van die inwoners. Elke gesig dra ‘n mengsel van herinneringe aan stories oor ‘n lewe wat geleef is. Tussen die mure van dié instellings is daar die geure van nostalgie en hoop maar ook van hartseer en verlies. Gesondheid verswak en soms duik ‘n gevoel van eensaamheid op. Hierdie ouer persone is ‘n gemeenskap wat stilletjies die verhaal van verandering vertel. Elke tree getuig van ‘n jarelange dans van lewe en verval.
Vir sommige inwoners beeld die gange van die instelling ‘n tydperk van stryd uit – die laaste toneel van hulle lewensverhaal, ‘n laaste reis na hulle finale bestemming. Die gevoel van eensaamheid is tasbaar wanneer jy in ‘n sentrum vir bejaardes rondgaan. Die verlede laat party inwoners soms bitter en die onsekerheid oor die toekoms maak hulle angstig. Hulle wonder of hulle kinders ooit weer sal kom kuier, en die verlies aan ou vriende laat hulle met net herinneringe.
Maar in dieselfde gange lê daar ook baie stories en wysheid. Agter elke deur is ‘n lewensverhaal wat getuig van geskiedenis en ervaring. Die inwoners in die gange het soveel kosbare kennis en vaardighede wat hulle aan jonger generasies kan oordra. Die gange van ‘n tehuis vir ouer persone mag dalk lyk na ‘n reis wat tot ‘n einde gekom het, maar eintlik is dit ‘n reis tot in die diepste plekke van menswees. Hier word die samelewing se geheue bewaar en gekoester.
Ons ouer persone loop oor van wysheid en ervaring en dit is belangrik dat ons hierdie kennis oordra na die volgende generasie. Deur dit oor te dra, versterk ons nie net die bande tussen die verskillende generasies nie, maar verseker ons ook dat kulturele identiteit, tradisies, kundigheid en lewenslesse voortbestaan.
Elke kind word nie ‘n bejaarde nie, maar elke bejaarde was eens ‘n kind. Die kringloop van die lewe is ‘n ewige dans van groei, verandering en hernuwing. Deur na die stories en raad van ouer persone te luister, kan die volgende generasie insig kry om uitdagings en struikelblokke te hanteer en dit help om die gaping tussen generasies te oorbrug sodat ‘n omgewing geskep word waarin almal gerespekteer en gewaardeer word vir hulle bydraes in die samelewing.
Die oordrag van kennis is ook ‘n manier om die kontinuïteit van vaardighede en ambagte te verseker. Ouer persone het kundigheid wat net jare se ondervinding kan bied. Hulle vaardighede sluit kookkuns, handwerk en tuinmaak in, en hulle moet dit oordra na die volgende generasie sodat dit nie verlore gaan nie. Ouer persone se kennis is van onskatbare waarde en dit is ons plig om dit te waardeer en bewaar.
Aan die einde van ons reis is dit nie wat ons bereik het wat belangrik is nie, maar eerder hoeveel liefde ons kon gee. Raak vandag betrokke by jou medemens deur jou hand uit te steek om liefde te gee. Stuur gerus ‘n e-pos na [email protected] of besoek ons blad by www.vrystaathand.co.za vir meer inligting.
Chantell van Wijk
Maatskaplike werker
Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek