Solidariteit Helpende Hand PlantSelf-projek

Solidariteit Helpende Hand wil gemeenskappe aktiveer om selfonderhoudend te wees. Ons wil hulle leer om vir hulself ‘n toekoms te skep waarin hul vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Met die Kosblikkie-projek fokus ons op die ondersteuning van behoeftige kleuters met voeding. So probeer ons op ‘n vroeĆ« stadium van kinders se lewe om welstand te verseker.

Met die PlantSelf-projek wil ons kinders van jongs af bemagtig met landboukennis en vaardighede in tuinmaak. So stel ons skole in staat om ekonomies volhoubare projekte aan te pak deur self te plant.

Die PlantSelf- en Kosblikkie-projek het in April 2024 op toer gegaan en skole wat by die Kosblikkie-projek betrokke is met plantkoepels bemagtig. Dit is ‘n draagbare kweekhuis wat herhaaldelik gebruik kan word. Die koepel het ‘n plastiese raam wat met skadunet oorgetrek is en bied beskerming teen alle weerstoestande. Dit het ‘n besproeiingstelsel wat aangepas kan word by die hoeveelheid beskikbare water en die gewasse wat in die koepel geplant word. Die plantkoepel is 1 046 mm hoog en het ‘n deursnee van 1 610 mm.

Op 8 April 2024 het die PlantSelf-projekbestuurders Sonica de Vos en Danelle du Plessis Platberg Kleuterskool in Harrismith saam met Ju-mari Kruger, assistentstreeksorganiseerder van die Vrystaat, besoek en ‘n koepel en saad aan die skool oorhandig. Die onderwysers en kinders en Solidariteit Helpende Hand se Harrismith-tak sien opgewonde daarna uit om deel te wees van die projek.

Ons wil graag PlantSelf-koepels in elke dorp neersit, maar het gemeenskappe se ondersteuning daarvoor nodig. Jy kan betrokke raak deur ‘n behoeftige skool te identifiseer en fondse vir ‘n plantkoepel vir daardie skool te skenk. Of jy kan die projek ondersteun met ‘n maandelikse donasie. Maak vandag nog ‘n verskil. Skenk ‘n plantkoepel en vul honger magies. Besoek ons webblad by www.plantself.co.za vir meer inligting.