IN DIE SKOENE VAN ‘N MAATSKAPLIKE WERKER

Suid Afrika, die land van melk en heuning, maar ook ‘n land waar uitdagings en triomfe hand aan hand stap. In hierdie land stap maatskaplike werkers daagliks deur strate, in gemeenskappe, wat seer ervaar en poog om hoop te bring, verandering te skep en ondersteuning te bied. Maatskaplike werkers het kennis en vaardighede om te deel en daar is ook toegewyde maatskaplike werkers wat daarop ingestel is om verandering en verbetering te help bewerkstellig, daar waar dit die nodigste is.

Natuurlik, het maatskaplike werk ook sy uitdagings. Armoede, ongelykheid, mishandeling en ‘n toename in misdaad is maar van die uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar. Maatskaplike werkers moet poog om hierdie uitdagings te help beveg, ten spyte van baie kritiek vanaf die publiek.

Gesinsintervensie is een van die sleutelareas van maatskaplike werk.  Daar word gepoog om saam gesinne deur moeilike tye te stap, emosionele ondersteuning te bied en om leiding te gee. Maatskaplike werkers kan ‘n brug wees tussen hulpbronne en die wat hulp nodig het. Gesinsintervensie behels gebroke gesinne, waar mishandeling en verwaarlosing soms voorkom, mense wat foute gemaak het, maar tog ook moed en vasberadenheid van die wat probeer, om ‘n beter môre te skep.

Die beskerming van kwesbare groepe is ‘n prioriteit. Maatskaplike werkers poog om ‘n stem te wees vir die wat nie hul eie stem kan lig nie. Daarom is die skep van bewusmaking oor die belangrikheid van die rapportering van enige vorm van mishandeling of verwaarlosing van die kwesbare groepe, ‘n belangrike deel van die rol van ‘n maatskaplike werker. Ingeligte gemeenskappe maak die hande van die maatskaplike werker sterker.

Nie almal se beeld van ‘n maatskaplike werker is altyd goed nie. Dit is verstaanbaar, want wanneer daar met trauma, misbruik en foute gewerk word, is daar verskillende emosies betrokke en stem mense nie noodwendig saam nie. Dit is hier ook belangrik om te onthou dat meeste maatskaplike werkers poog om in die beste belang, soos die Wet vereis, van die kind of ander kwesbare persoon op te tree.

Maatskaplike werkers is dikwels ongesiene helde, wat agter die skerms werk, om daadwerklik ‘n verskil te maak in die lewens van individue en gemeenskappe. Dit is ‘n roeping, wat nie altyd met groot lof kom nie, maar een wat die moeite werd is vir die wat ‘n verskil wil maak. ‘n Dag in die skoene van ‘n maatskaplike werker. ‘n Reis van empatie, sorg, bemoediging, ondersteuning en die hoop om ‘n positiewe verskil te maak in die lewens van ander.