DIE BEPROEWINGE VAN STANDVASTIGHEID: ‘n GELOOFSREIS

Solidariteit Helpende Hand se jaartema is Waardes wat Werk, en in April en Mei fokus ons op geloof. In Mattheus 17:20 lees ons: “En Jesus antwoord hulle: … voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! En hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

As maatskaplike werker ervaar ek daagliks die beproewinge van mense en staan ek voor stories oor pyn, hartseer, verlies, onsekerheid en mense wie se geloof op die proef gestel word. Wanneer ons menslike lyding ervaar, is ons geneig om in twyfel vasgevang te word. Wanneer mense se lewens deur omstandighede buite hul beheer geaffekteer word, is dit maklik om te vra: Waar is God is in my storm?

Wanneer ek aan die storms van die lewe dink, kan ek nie anders as om te dink aan die kragtige illustrasie van geloof en vertroue te midde van stormagtige tye in Markus 4 nie. In Markus 4:35-41 lees ons van ‘n woeste storm wat ontstaan terwyl Jesus en sy dissipels in ‘n skuit op die see vaar. Die golwe het tot binne-in die skuit geslaan en die skuit het vol water begin word. Terwyl die dissipels paniekerig raak, het Jesus rustig gelê en slaap in die agterste gedeelte van die skuit. Die dissipels het hom wakker gemaak en Jesus het opgestaan en die wind en golwe beveel om stil te word. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?” Hierdie gebeurtenis leer my om standvastig in my geloof te wees, beteken nie ek moet al die antwoorde hê nie, maar dat daar ‘n groter prentjie is wat ons nie altyd kan sien nie.

Dit bring ‘n dieper waarheid na vore. Om standvastig in my geloof te wees, beteken ek erken dat daar dae sal wees wanneer ek swak voel, dae wat twyfel my oorval, maar dat ek deur die omstandighede moet volhard en bly glo dat daar ‘n doel is. Dan herinner ek myself dat daar in Romeine 8:28 staan dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Wanneer ons weer na Markus 4 kyk, word ons daaraan herinner dat geloof ‘n noodaaklike aspek van ons verhouding met God is. Dit beteken vertroue in God se mag en liefde, selfs te midde van die stormagtigste tye. Toe die dissipels bang en paniekerig was, het hulle na Jesus gedraai vir hulp. Dit herinner ons daaraan dat ons steeds ‘n toevlug het selfs wanneer ons geloof wankel. Wanneer die golwe van die lewe hoog spoel, herinner dit ons dat daar te midde van die storm ‘n ligstraal van hoop is as ons ons vertroue in Jesus plaas.

Mag ons God se hand en teenwoordigheid in ons omstandighede sien wanneer ons terugkyk op die oomblikke toe daar storms om ons gewoed het, en mag ons getuienis lewer oor die moeilike omstandighede wat ons kon oorwin en die wonderwerke wat Hy in ons lewens gedoen het.

Besoek gerus www.vrystaathand.co.za vir meer inligting oor Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek se werksaamhede.

Chantell van Wijk

Maatskaplike werker

Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek