WIE IS SOLIDARITEIT HELPENDE HAND?

Solidariteit Helpende Hand is deel van die Solidariteit Beweging wat in Junie 1902 as die Transvaal Mynwerkersunie gestig is. Die beweging bestaan uit 18 instellings wat onder andere AfriForum en Helpende Hand insluit. Elke instelling is ‘n onafhanklike entiteit en almal fokus op verskillende leemtes in die gemeenskap.

Solidariteit Helpende Hand is ‘n niewinsgewende organisasie (NPO) wat geroepe is om Afrikaner-gemeenskappe te ontwikkel. Ons glo ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor ons gemeenskap. Ons elkeen leef in ‘n gemeenskap en wil graag die gemeenskap waarin ons leef, ontwikkel. Ons glo om die uitdagings in ‘n gemeenskap aan te pak en die gemeenskap te ontwikkel, moet daar strukture in plek wees wat volhoubare oplossings bied.

WAT IS ONS DOEL?

Volgens mnr. Flip Buys was die beste helpende hand nog altyd die een aan die punt van elke mens se eie arm, daarom fokus Helpende Hand daarop om mense te help om hulself te help. Ons skep langtermynoplossings in samewerking met verskeie netwerke in gemeenskappe.

Solidariteit Helpende Hand bevorder maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling in gemeenskappe deur volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbronontginning. Individue ontwikkel dus in die gemeenskap totdat elkeen optimaal funksioneer en ons glo dit sal bydra tot ‘n gesonde, vooruitstrewende gemeenskap. Die uitkoms moet ‘n gemeenskap wees waarin die Afrikaner vry, veilig en voorspoedig kan leef.

HOE KAN EK BETROKKE RAAK?

Helpende Hand se personeel en takke is in 13 streke reg oor die land verdeel. Elke tak bestaan uit vrywilligers wat die nood van Afrikaners in hulle gemeenskap identifiseer en die uitdagings dan volgens die Helpende Hand-raamwerk aanpak. Hulle is ons hande en voete in die gemeenskap.

Helpende Hand het reeds ongeveer 120 Ons Winkels landswyd. Dit is skenkingswinkels waar lede van die gemeenskap gebruikte goedere wat nog in ‘n goeie toestand is, kan skenk. Die Ons Winkels verkoop die geskenkte goedere om ‘n volhoubare inkomste mee te bring. Die winkels skep nie net werk vir hulle eienaars en personeel nie, maar dra ook by tot die salarisse van Helpende Hand se maatskaplike werkers en studiefondse. Die Helpende Hand Studietrust administreer tans meer as 220 studiefondse ter waarde van meer as R277 miljoen waarmee meer as 6 300 behoeftige studente reeds die afgelope 11 jaar gehelp is om te studeer!

Helpende Hand bou volhoubare strukture sonder staatsondersteuning of staatshulp. Ons het meer as 40 000 ondersteuners wat maandeliks per debietorder ʼn bydrae lewer en ons ontvang ook skenkings en testamentêre bemakings uit ons gemeenskappe.

Wil jy as ondersteuner of vrywilliger betrokke raak? Stuur gerus ‘n e-pos na [email protected] of [email protected].

Chantell Wiesner

Solidariteit Helpende Hand

Maatskaplike werker: Vrystaat-streek

Leave a Comment